Die gratis Afrikaanse speltoetser vir Microsoft Office (Windows en Mac)

Voorwoord

WSpel is sedert 2002 ’n privaat inisiatief deur Johan Visser, Elfia Visser en wyle Thomas C. Ellis (1934 – 2018) en spog met baie eerstes in die ontwikkelingsgeskiedenis van speltoetsers wêreldwyd.

Algemene inligting oor WSpel
WSpel sal die meeste woorde wat in ’n gewone woordeboek voorkom onmiddellik saamvoeg as u dit as twee of drie woorde tik: Voorbeelde is bank rekening, koelte boom, melk tert, yster pot deksel, bindvlies ontsteking.  Sal sekere woorde weer skei as u dit as een woord tik.  Sal veral anglisistiese woorde en frases en swak Afrikaans onmiddellik vervang met die korrekte Afrikaanse woord of frase. Baie grammatikale hulp word verskaf.  WSpel ken die onderskeid tussen baie sinsnedes waarin u bleik/blyk, grote/grootte, reik/ryk, reis/rys, steil/styl, pyl/peil, feil/vyl, wei/wy, verassing /verrassing, verrys, verys en vereis gebruik. Ook die verskil tussen die betreklike vnw.wat en besitlike vnw. wie.  Sal die ge- voor werkwoorde soos gebesef, geherhaal, geerken, geontken en geverstaan, outomaties verwyder.  Dit sal veral vir andertaliges van groot hulp wees.  Let wel.  Werkwoorde soos herberg en herkou kry wel ’n ge- voor om die verlede tyd aan te dui.

Die gebruik van die letter q
WSpel ken die onderskeid tussen woorde soos , se, hoe, hoë, bere, bêre, ensovoorts, as dit in sinsverband getik word en plaas die skryftekens soos die akuut, gravis, deelteken, kappie en tilde outomaties sonder die gebruik van die alt + syferkodes.  As hierdie woorde egter as alleenstaande woorde gebruik word, tik ’n q vas aan die woord om die skryfteken geplaas te kry, bv. seq om te kry.  Die skryftekens word op alle ander woorde soos nutriënt, meedoënloos, ensovoorts, outomaties geplaas al tik u slegs die enkele woord sonder om dit in ’n sin te gebruik.  Gebruik die q ook by alternatiewe spellings vir bv. kartelsaak om kartèlsaak te kry.

WSpel sal soms nie weet watter alternatiewe spelling van name en vanne u in u teks wil voeg nie. Ook nie wanneer u ’n spesifieke woord wil beklemtoon nie. Die letter q word gebruik om hierdie woorde van skryftekens te voorsien: a) andreq sal in André verander.  mollerq sal in Möller verander.  As u wel ’n van tik wat nie in WSpel opgeneem is nie, kan u die syfertekens maklik kry.  Verwyder die letters, insluitende die een wat van ’n skryfteken voorsien moet word van die van wat u getik het en onderstreep is selfs nadat u ’n q vas daaraan getik het. en dit verander nie korrek nie of u kry dit nie in die aanbevelings nie.  Skep weer een spasie en tik die letter met ’n q daaraan vas, bv. aq, eq, iq, oq, uq of yq.  Die hele reeks ä á à â å ã Ä Á À Â Å Ã , ê ë é è Ê Ë É È, ï î í ì Ï Î Ì Í , ö ô ó ò õ Ö Ô Ó Ò Õ , û ü ú ù Û Ü Ú Ù en ý Ý verskyn na gelang van die letter en q wat u getik het. Hulle is in numeriese orde.  Tel tot by die een wat u wil behou, bv. die derde à.  Tik nou 3 op die toetsbord en druk die spasiebalk.  Slegs u keuse bly oor. (Dit geld alle keuses wat WSpel soms mag aanbeveel.)  Skuif dit teenaan die gedeelte van die woord en voltooi die res van die van of woord.  b)  moetq, salq, hierdieq  sal in móét, sál, hiérdie, verander Alle vokale kan beklemtoon word met die gebruik van die q.

Die bekende afkortings soos d.w.s., m.a.w., bv., asb., ens. sal voluit verskyn as ’n q vas daaraan getik word en dwsq of mawq sal verander in dit wil sê of met ander woorde.

Sekere woorde soos eerstehandse mag dalk as twee woorde getik gewees het.  Die speltoetser sal slegs aandui dat handse foutief is en honde, hande of handsae as alternatief aanbeveel.  U kan die spasie verwyder of u kan as u ’n tweede- of derdetaalspreker is, ’n q tussen die twee woorde voeg en regs op eersteqhandse klik en dan weer op die aanbeveling eerstehandse.

Die q word ook gebruik om te bepaal of sekere woorde met ’n kleinletter of hoofletter getik kan word.  Tik die woord altyd met ’n kleinletter soos bv. mistisismeq of bonchrétienq.  Klik regs daarop en die woord sal aangedui word as mistisisme of Mistisisme of bonchrétien en Bonchrétien. Gebruik dit ook saam met enige woord as u wil sien of daar alternatiewe spellings is of tik ’n onbekende woord en as dit onderstreep word, klik regs daarop.  Die korrekte spelling word meestal aangedui.

Die apostroof by sekere woorde, o.a. ’n
Die ’n word verkry deur slegs die n op die toetsbord te tik.  In ’n  opskrif in hoofletters tik u Nq vir ’N.  Tik die n twee keer om N. as ’n voorletter te kry as u nie die MakroQ gelaai het nie. Woorde soos ast ware, (albei spelwyses) gn, sn, aant, kan ook sonder die afkapping getik word en dit sal outomaties geplaas word.  Die afkappingsteken sal ook geplaas word voor die s in enige woorde soos fotos, silos, buros, ens. as u versuim om dit te tik. Vir sneller tik kan u dit gerus uitlaat.

Outomatiese koppeltekens
Tik alle herhalings, soos fluit fluit of kort kort as twee woorde en die koppelteken sal outomaties bygevoeg word en u kry nou-nou, fluit-fluit en kort-kort.

Tik enige woorde waar ’n koppelteken as ’n reël moet kom, of moet kom, weens die opeenhoping van klinkers, as twee woorde en ’n woord soos  suid afrika sal verander in Suid-Afrika. Enige pleknaam in die poskodegids soos florida noord sal verander in Florida-Noord. Ook aandele indeks sal verander in aandele-indeks. Woorde soos blinkblaar-wag-’n-bietjieboom, Haak-en-steek, kruidjie-roer-my-nie en heen-en-weertjie, kan sonder koppeltekens getik word en dit sal outomaties reggestel word. Feitlik alle koppeltekenwoorde word gedek.  Alle woorde soos gesms en geepos en pin nommer sal dadelik gekorrigeer word as ge-SMS en ge-e-pos en PIN-nommer. Die afkorting TV met 130 woorde wat daarop volg, sal verskyn met ’n hoofletter en koppelteken, bv. TV-program, TV-advertensies, TV-skerm, TV-akteur.  Tik 5 ℓ-bottel, 2 ℓ-kan, of enige houer of vloeistof met enige aantal liters of mℓ of cm, bv.  2,5 cm-tertbak, a-klank as twee of drie woorde  en die koppelteken word outomaties geplaas.  Onthou die gebruik van die q. Tik e klankq vir u ê-klank, terwyl dit sonder die q vir u e-klank sal gee.

Afkortings
Die afkortings in paragraaf 4. hierbo sal outomaties van punte voorsien word as dit as dws en maw  getik word. Dieselfde geld vir titels soos mnr, prof, mev,  ds,  ens.  Afkortings met hoofletters, soos atkv, sauk, atr, dvd, dvds, cd, cdstv ens. kan met kleinletters getik word. Dit sal outomaties verander word as ATKV, SAUK, ATR, DVD, DVD’s, CD, CD’s  en TV.

Hoofletters
As u woorde soos rooitaal, klaas vakie, mal jan, maljan, kersfees en vele ander so met kleinletters tik, sal dit verander in Rooitaal, Klaas Vakie, Mal Jan. Maljan en Kersfees.  Enige woorde wat normaalweg net met ’n hoofletter getik word, kan met WSpel as kleinletters getik word en dit sal gekorrigeer word en selfs koppel­tekens sal bygevoeg word.  Voorbeelde:  groot karoo en groot brittanje sal gewysig word na Groot-Karoo en Groot-Brittanje.  Verwys ook na paragraaf 9 en 11 hierbo in hierdie verband.  Woorde met ’n mengsel van klein- en hoofletters soos kyknet en litnet sal verander in KykNET en LitNET selfs al tik u net kleinletters.

Tik vanne soos, Da Silva, Dos Santos, De Beer, Du Plessis, Le Grange, La Grange, Van der Walt, Van Wyk, Von Willigh met kleinletters slegs as dit van ’n titel, naam of voorletters voorsien is.  WSpel sal die voorvoegsel na ’n titel outomaties vervang met ’n hoofletter, maar ook enige manlike of vroulike naam daarna en ook die res soos Beer, Plessis, ens. as u dit ook met kleinletters getik het.  As die van slegs op sy eie gebruik word sonder titel, naam of voorletters, moet slegs die voorvoegsel ten minste met ’n hoofletter getik word soos in die begin van hierdie paragraaf aangedui word.  As u voorletters na die titel het, tik dit in kleinletters en dit sal in hoofletters met punte en spasies daarna outomaties verander.  U tik bv. in die sakebrief die adres van die persoon soos volg:  prof j de v lochner en dit verander outomaties in Prof. J. de V. Lochner.  Dit is die spelwyse wat voor 1974 gegeld het en steeds in elke Europese land en Amerika gebruik word.  Lees meer hieromtrent in die hulplêer onder Vanne en titels.  In die middel van teks sal die titel in kleinletters bly.  Tik alles liefs met kleinletters om die gedurige wisseling tussen die bokas en onderkas te oorbrug.  Lees in die hulplêer onder Vanne en titels meer hieroor.

Teks en koppeltekenwoorde
As u sinne of koppeltekenwoorde tik en teks verander, moenie bekommerd wees nie.  Tik die teks of woord klaar.  U mag bv. die woord lee-metford in gedagte hê.  Tik die onderstreepte woorde net hierna en kyk wat gebeur.  Die einde van ’n sin lui:  hulle ly albei aan MIV.  Die MIV word eers m.i.v.  Tik die punt net daar waar die loper flikker – u sou die punt in elk geval aan die einde van die woord getik het – en die m.i.v. word MIV.

Daar is enkele uitsonderings waar ingedagte nie in twee woorde sal verander nie.  Sodra Microsoft meer geheue aan die outokorrek toeken, sal WSpel verder verbeter word.  As u gebruik maak van klankterugvoering soos ons aanbeveel, sal u altyd bewus wees as teks dalk nie reggestel word nie.

Tik byvoorbeeld: Mnr de bruyn het vroeg vanmore gese dat hy nog van dag by die huis sal wees maar dat hy van dag tot dag n mede aanbieder van n tv program op kyknet sal wees.  In die aande neem hy skilder kuns klasse by mnr van der lindeVanmore is ek tuis, maar van more af gaan ek uit huisig wees.  Ek gaan kaapstad toe.  Die pasient is miv positief.  Die landbou uitvoer van suid afrika na die res van die afrika lande het gesteig.  Loop na die brug en vandaar af na die berg.  Ander kant die berg het dit nie gereen nie, maar aan die anderkant van die rivier was dit die ene moerasseGn mense sal die fotos van haar wil koop nie.

en WSpel sal dit outomaties korrigeer: Mnr. De Bruyn het vanmôre vroeg gesê dat hy nog vandag by die huis sal wees maar dat hy van dag tot dag ’n mede-aanbieder van ’n TV-program op KykNET sal wees.  Saans neem hy skilderkunsklasse by mnr. Van der Linde.  Vanmôre is ek tuis, maar van môre af gaan ek uithuisig wees.  Ek gaan Kaapstad toe.  Die pasiënt is MIV-positief.  Die landbou-uitvoer van Suid-Afrika na die res van die Afrika-lande het gestyg.  Loop na die brug en van daar na die berg.  Anderkant die berg het dit nie gereën nie, maar aan die ander kant van die rivier was dit die ene moeras.  G’n mens sal die foto’s van haar wil koop nie.

Anglisismes, spelfoute en swak Afrikaans
Hierdie aspek word in die hulplêer, onder die voorafgaande opskrif, behandel.  Lees asseblief wat ons daar sê.

LET WEL:   WSpel dui foute aan volgens die woorde in sy woordebasis.  So kan u altyd verseker wees as ’n enkele woord verkeerd getik is en onderstreep word, dat die woord/e wat in die aanbeveling verskyn, wel die korrekte spelling sal aantoon.  As u egter verbindings van woorde in WSpel tik soos byvoorbeeld keteltromorkes wat nie in die woordebasis opgeneem is nie,
sal dit onderstreep word.  As u regs daarop klik, sal die aanbeveling dit aandui as twee woorde: keteltrom orkes.  U word dan die keuse gebied om dit in die pasmaakwoordeboek te voeg, deur op Add to dictionary te klik.  Daar bestaan natuurlik nie ’n orkes wat net uit keteltromme bestaan nie en hiérdie woord word slegs as voorbeeld gebruik.  Daar is egter baie samevoegings wat ons nog nie in ons woordebasis het nie, omdat Afrikaans ’n baie groot taal is en hierdie woorde verskyn nooit in woordeboeke nie.  Voeg hulle gerus as een woord by as u op hulle afkom.  Soos in die hulpleër aangedui, wil die Amerikaners nie toelaat dat jy uit hulle taal gaan as jy eers in Engels (US) getik het nie.  As u dus ’n eerste dokument met English (U.S.) in Afrikaans tik, kan u nie in Word bly en ’n volgende dokument in English (South Africa) tik nie.  Die taalkeuse sal nie verander nie.   Maak die Afrikaanse dokument toe en berg (save) ditMaak word nou weer oop en kies English (South Africa) as u nie reeds daarin is nie.  U sal andersins woorde kry soos wê, môre en hê.

Daar is oneindig baie meer hulp in WSpel, maar die bostaande sal u dadelik help om WSpel met sukses te gebruik.  Lees gerus die Hulplêer van Inleiding af en vergewis u van die ander belangrike eienskappe en hulp van WSpel.  (Die volledige hulplêer en instruksies word gratis saam met die speltoetser afgelaai.)

In liefdevolle herinnering aan Thomas C. Ellis (1934 – 2018)

______________________________________________________________________

Kopiereg sedert © 2002 Johan & Elfia Visser.  Alle regte voorbehou.

Microsoft® is ʼn geregistreerde handelsmerk van die Microsoft Groep van maatskappye in die Verenigde State van Amerika en in ander lande.  Microsoft Office®, Microsoft® Word, Microsoft Excel®, Microsoft PowerPoint®, Microsoft Access®, Microsoft Outlook®, Microsoft Outlook® Express, Microsoft® Publisher, Microsoft Windows® en Microsoft Windows Vista® is handelsmerke en programme van die Microsoft Groep van maatskappye in die Verenigde State van Amerika en in ander lande.   Mac is ʼn geregistreerde handelsmerk van Apple Inc.  Inno Setup Compiler (http://www.innosetup.com/) is gebruik vir die installasieprogram.

Tag Cloud

%d bloggers like this: